Sunday, 26 October 2014

Man met die Koffer



n Gedig deur Berna van Zyl

Vanoggend word ek wakker.
Daar is n gehammer aan die deur.
Ek sluit die voordeur oop.
Daar staan hy
Met sy koffer in sy hand,
Gedaan...
Meneer Verlange.

Ek huiwer vir n oomblik.
Moet ek hom inlaat?
Hy het seker net soveel reg om hier te wees soos ek.
Ek nooi hom in.
“n Koppie koffie vir jou?”

Ons sit in ons nuwe sitkamer.
Ons kyk na mekaar met groot oe vol trane.
Dit is ongemaklik.
Dit is seer.

Ek verskuif my blik na sy koffer.
“Wat is in jou tas?”
Hy haal n foto uit.
Dit is ek in my ouma se rok
Op my pa se plaas –
Of eerder:
Dit was ek in my ouma se rok
Op die plaas wat my pa sin was.
Ek vra hom om asb die foto terug te vat.

Ek begin wonder...
“Het jy dalk my lapsker in daai koffer?”
Erens langs die pad,
Die groot trek,
Het ek my lapsker verloor.
Hy herriner my dat die lapsker in die boks is.
Die boks wat ek nog nie wil uitpak nie.
Die boks wat lees:
‘Lapsker, kamera, Elle, passie, talent...’
Met ander woorde
‘Verlede’.
Ek bid saggies en vra die Here:
“Asseblief hou díe boks in gedagte wanneer U my toekoms beplan.”

Ons was n oomblik stil.

Toe vra hy my oor my nuwe vriende.
“Is dit moontlik om so vinnig lief te word vir mense?
Ek het niks,
My hande is leeg en my hart is rou.
Al waavoor hulle kon lief word was die Berna van nou.”

Ek kyk na hom.
Ek sien my eie emosies in sy oe.
Ek onthou die seer van vorige vriendskappe.
Ek wil opstaan en die berge in hardloop!
Maar dit is te laat.
Hierdie mense is klaar in my hart.

“Hoe haal n mens negentien jaar in?”
Ek wil my vriende aan hom voorstel,
Met die hoop dat hulle so my verlede sal leer ken.
Maar hy sê nee.
Hy is hier,
Net vir my.
Hy sê met tyd sal hulle die negentien jaar –
Die vorige negentien jaar deur my leer ken.

Hy vra my oor die plaas.
“Dit was liefde met eerste oogopslag.
Maar ek en Breedevlei ken mekaar nog nie.
Ek moet nog baie kilometers stap,
Nog baie seisoene voel
En nog baie liters water drink
Voor ons werklik saam kan staan.”

Hy vra my oor die weer.
“Pappa se dit voel soos herfs,
Winderig en droog.
Dit is so.
My hart voel ook herfs.
Maar dit is asof my God belowe dat somer oppad is.
Want dis Oktober,
(Die mooiste mooiste maad)
Dit is nou tyd vir lente.
Die eerste lente na sewe jaar se winter.

Soos ons gesels begin die negatiwiteit weg syfer.
Ek gooi nog n bietjie soet heuning in my bitter koffie.
Hy vra nie meer vra nie.
Uit my eie uit begin ek vertel.
Hom vertel van al my nuwe ervarings...

Bloukraanvoëls,
Stap op die strand,
Wyn leer ken,
Fynbos,
Stock cars,
Afrikanse musiek,
My eie taal op die plaas,
Tennis speel,
Winde in die Overberg,
Hoofstraat geluide...

Ek sluk die laste bietjie koue koffie.
Toe ek opkyk
Met n glimlag wat nie wil los nie,
Is hy weg.
Verlange is weg.
Die koffer vol herrineringe het hy laat staan,
Asook sy vuil koffie beker.
Maar hy is weg.

Ek weet nie waarheen hy verdwyn het nie.
Weet nie of hy weer terug sal kom nie...

No comments :

Post a Comment